Laaste lullaby

So toe wonder ek maar net

wat jy regtig wil doen

en wie jy regtig wil wees,

want al is jy werklik onseker

dink ek almal weet:

Jy skryf jou drome soms neer

op die binnekant van jou ooglede

en tussen die veiligheid van hul vier mure

laat jy hulle jou aan die slaap sing.

Jy maak asof hulle laf is,

want wie kan so mal wees

om hulle drome te openbaar

en met alles in hulle na te jaag?

 

Jy hou jou drome weggesteek,

net om aan te dink as jy alleen is,

maar moet jouself nie bekommer nie,

want gou-gou kom die ewige nagrus

dan slaap jy veilig met jou drome

wat jou steeds aan die slaap sus in jou kis

en jou beton kopstuk wat lees:

Net soos al die ander gewees.

Verskoon my Frans

Fok jou

en fok jou customised vellies

fok jou Stanley koffiefles

en jou ironic use van reën emojis.

 

Fok my

en fok my eensydige gevoelens

fok my idee van ware liefde

en die feit dat ek val vir jou liegkuns.

Onware Wilger

Vir wie kan ek nou sê

ek het aan die arms van ‘n WIlgerboom gehang?

Het dit werklik gebeur

as dit ‘n glimlag of selfs ‘n kopknik van jou verlang?

Die wind het my op die kop gesoen,

nou wonder ek: Vir watter doel?

Weggedra in die enorme blou

net nog verder weg van jou.

 

Kleinmond

Vandag het ‘n naaldekoker vir my die pad bedui

en die dassies het toegesien dat ek daarop bly.

Een vir een het die klippies uit die pad gerol

en was ek aangespoor deur ‘n brander se brul.

 

As ek maar net vandag al kon weet:

God was in elkeen van hul.