Opsoek na hoenders

Jy vra my waar ‘n plek is met hoenders om te vang,

want in daardie oomblik sal jy moontlik lewe waardeer.

Ek wens jy kon weet die hoenders is reg agter jou rug

besig om jou te jaag soos jy weghardloop van jou seer.

 

Hou net op.

Haal net asem.

Neem net in.

 

Jy kort nie hoenders om die geluk uit die lewe te put,

want selfs al was dit onder jou neus, sou jy dit steeds miskyk.

Ek wens ek kon jou wakker skud

en wys die hoenders is reg rondom jou in die goed wat alledaags lyk.

 

As jy net gelewe het in minder haas,

sou jy weet: Die wêreld is jou hoenderplaas.

Werklik naak

Ons is almal bladwisselende bome

wat vashaak in ‘n ewigdurende Kaapse winter.

Die winde van die wêreld het jou kaal gewaai

en lankal ontslae geraak van jou diepste drome.

 

Jou wortels groei vlak,

want jy gee net om oor wat almal raak sien.

Die wêreldse juwele waarmee jy so spog,

is die druppels van die reën wat kom rus op elke tak.

 

Ek wens ek kon jou wakker skud

en werklik naak laat.

Al wat jy dan oor het, is yl wortel en brose tak

en jou afgeskeepte God se arms wat jou beskut.

Al wat jy dan kan doen is om op jou knieë te sak

en vir vergifnis te bid.